July 24, 2018 0 By Shafiek Mouton
24 Julie 2018 21h12
KEASHAN-TAYE Pietersen, 11 jarige leerder aan Wellington Primêr, is bestem vir hoër hoogtes. Sy blink uit in naellope en verspring en is ook ‘n kranige netbal speelster.
Die skugter dogter is tans die vinnigste in haar ouderdomsgroep in die Wes-Kaap oor die 80 sowel as die 100m naelloop en sy het tweede geeindig in die Nasionale Kampioenskappe vir verspring.
JONG BLITS: Keashan-Taye in aksie vroeër vanjaar.
Foto: Facebook
‘n Ongelooflike eer het Kece, soos sy deur haar familie en vriende genoem word, onlangs te beurt geval toe haar ma, Audrey, twee kaartjies gewen het na die premiere van Wayde van Niekerk se dokumentêr “43.03, The Wayde van Niekerk Story”. Uitgevat en ietwat senuweeagtig aan die begin, kon hulle skouer skuur met celebs op die rooitapyt en met flitsende kameras en bekende gesigte oral, het dit baie vinnig ontaard in ‘n sprokiesaand vir die jong dogter en haar mammie.
HANDTEKENING: Kece en Audrey saam Wayde op die rooitapyt
Die glansryke geleentheid, wat in die V&A Waterfront in Kaapstad gehou was, is deur onder andere Chad le Clos, Cheslin Kolbe, Rachel Kolisi en Wayde se ma, Odessa Swarts, bygewoon. Ma en dogter het Wayde persoonlik ontmoet, fotos geneem, gesels en die goue seun se handtekening gekry. Hy was baie hoflik en het die dames op hul gemak laat voel.
Een van Wayde se borge, T-Systems, het die aand beloof om aan Keashan-Taye ‘n paar spykerskoene, geteken deur Wayde, te stuur. ‘n Besigheidskaartjie is nagelaat en na verskeie eposse en oproepe het sy haar skoene Maandag ontvang.
NUWE WIELE: Kece met die splinternuwe Adidas spykerskoene
Sy kon natuurlik nie ophou glimlag nie en mens kon amper die rooi hartjies in haar oë sien toe sy die deftige Adidas spykerskoene ontvang het. Die wêreld, en olimpiese kampioen asook wereldrekordhouer in die 400m, het sy woord gestand gedoen en elke skoen geteken asook boodskappies daarop geskryf.
GOEIE RAAD: Wayde se boodskappies aan Keashan-Taye
Volgens die trotse mammie het Kece maar baie min geslaap gisteraand, wat seker heeltemal te verstane is. Ons is baie gelukkig om in Wayde van Niekerk ‘n kampioen van sy sport, ‘n nederige en God vresende rolmodel vir ons jeug te hê. Die kinders van Suid Afrika verdien meer Wayde’s om meer Keashan-Taye’s te laat droom…